BOLAND KOLLEGE STUDENTE BESOEK CALEDON SPA
Die Bestuursassistent N6 studente van Boland Kollege Caledon het onlangs die Caledon Spa as deel van hulle afrondingskursus besoek. Die Caledon Spa spog met ses behandelingskamers, ‘n reën spa en die gewilde natuurlike warm minerale bronne. Die afrondingskursus het ten doel om studente gereed te maak vir die korporatiewe wêreld wat hulle na hul studies gaan betree. Aspekte soos telefoonetiket, kleredrag, persoonlike versorging, samestelling van ‘n Curriculum Vitae en onderhoude word in die afrondingskursus hanteer.
Me. Sandra Venter (Bestuurder: Caledon Spa) het die studente ontvang en deur middel van ‘n interaktiewe sessie bewus gemaak van die belangrikheid van kleredrag en persoonlike versorging. Me. Venter het studente ook ingelig rakende die belangrikheid van kliëntediens, veral in die gasvryheidsindustrie. Studente het hierdie sessie terdeë geniet en ook waardevolle lesse geleer rakende kleredrag in die korporatiewe omgewing. Ons wil graag vir Me. Venter en haar span bedank vir die sessie. ‘n Hartlike dank ook aan Me. Sandy Engelbrecht (Lektor: Caledon kampus) wat die sessie moontlik gemaak het. Vir meer inligting rakende die Caledon Spa besoek gerus die volgende skakel www.tsogosun.com/the-caledon-casino/spa.