SPORTSTUDENTE TREK HARDLOOPSKOENE VIR LIEFDADIGHEID AAN

Die Internasionale Sportdiplomastudente van Boland Kollege se harte klop op die regte plek… Dít het hulle bevestig toe hulle onlangs met die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) saamgespan het om ’n suksesvolle fondsinsamelingsveldtog aan te bied.

Om die 133ste diensjaar van die NID te vier, is besluit om twee gedenklope aan te pak – enersyds om as ’n fondsinsamelings- en andersyds as ’n bewusmakingspoging te dien. Die fokus was op meervoudig-gestremde dowes en hoe daar ’n positiewe verskil aan hulle lewens gemaak kan word.

Die sportstudente het nie gehuiwer om die drafskoene aan te trek om die aflos op Stellenbosch aan te pak nie. Reeds toe die afsetter die skoot laat klap het, was die geesdrif groot – om nie eens te praat van die opwinding toe hulle onder luide toejuiging die afstand voltooi het nie.

Baie dankie aan Wickus van der Westhuizen,  Hendre Smit en Anneme Lazarus vir die groot rol wat hulle in die sukses van die geleentheid gespeel het. ’n Tweede soortgelyke poging vind weer later vanjaar plaas.

Vir meer inligting oor die NID, besoek gerus die webtuiste by www.nid.org.za